Geagte OPSA-ouers/voogde/tutors,
Dit is nou Week 5 van Kwartaal 3, en ons is reeds besig om die assessering vir die einde van Kwartaal 3 te ontwerp en voor te berei.
Hierdie kommunikasie handel spesifiek oor die Kwartaal 3 Reeks A-assessering. Indien u kind nie Reeks A-assessering skryf nie, raak hierdie reëlings u nie direk nie.
Ons het dit goedgedink om die assesseringsprogram en werksafbakening vir Kwartaal 3 vroegtydig met ouers en tutors te deel.
Die werksafbakening vervang nie die dag-tot-dag-program nie. Dit gee slegs ’n oorsig van die werk wat moontlik in Kwartaal 3 per vak getoets kan word. Die dag-tot-dag-program bly steeds die kernprogram waardeur die kwartaal se werk volledig behandel word.
Gebruik die werksafbakening dus as ’n riglyn om seker te maak dat u kind die belangrike werk in elke vak goed verstaan voordat die assessering begin.
Die Reeks A-assesseringsprogram en die werksafbakening kan hier afgelaai word:
Ons gaan hierdie naweek begin om die Kwartaal 3 Reeks A-assessering op te laai en leerders daarvoor te registreer.
Soos verlede kwartaal, begin die Reeks A-assessering met ’n opsienerverklaring. Die ouer, voog of tutor moet asseblief die verklaring aflaai, voltooi en teken — elektronies of per hand — en dit weer oplaai.
Sodra die opsienerverklaring opgelaai is, sal die assesseringsaktiwiteite ontsluit word.
Ons gaan ook begin om die praktiese assesseringsaktiwiteite op te laai. Sommige praktiese aktiwiteite kan langer neem as die voorgestelde eksamenweek soos aangedui op die assesseringsprogram.
Wanneer u kind gereed is en die nodige werk voltooi het, kan u met hierdie praktiese aktiwiteite begin.
Let asseblief wel: hierdie eerste aktiwiteite is nog nie die volledige assessering nie. Die res van die assesseringsaktiwiteite sal teen Week 8 opgelaai wees, sodat u dit kan voltooi wanneer u kind gereed is.
Die Reeks A-assessering sal ook aanlyn vasvrae insluit wat in ’n privaat toetsblaaier geskryf word. Dit beteken dat u kind nie ander toepassings op die rekenaar sal kan oopmaak terwyl hy/sy die assessering skryf nie.
Instruksies oor hoe om die privaat toetsblaaier te aktiveer, sal binne die assessering self verduidelik word.
Moet asseblief nie nou al met die assessering begin nie. Gee u kind eers die geleentheid om die kwartaal se werk volledig te voltooi en vas te lê voordat u hom/haar assesseer.
Onthou asseblief ons OPSA-beginsel:
Ons assesseer om te leer; ons leer nie om te assesseer nie.
Die doel van assessering is om te bepaal wat reeds goed verstaan word, en waar daar nog ondersteuning, hersiening of inoefening nodig is.
Ons wens u en u kind alle sterkte toe met die res van Kwartaal 3 se werk. Hou aan om rustig en konsekwent te werk, en onthou dat elke kind teen sy/haar eie tempo leer.
Vriendelike groete,
OPSA Ondersteuningspan