Kwartaal 3 Reeks A-assessering is gepubliseer. Lees belangrike instruksies oor opsienerverklarings, eie werk en nasien.

Geagte OPSA-ouers/voogde/tutors,

Dit is alweer daardie tyd van die kwartaal. Indien u kind gereed is vir assessering, kan u nou kennis neem dat die Kwartaal 3 Reeks A-assessering reeds gepubliseer is.

Kyk asseblief op u kind se profiel of die assessering daar verskyn en of dit die korrekte kwartaal is. Indien die verkeerde kwartaal oop is, of indien die assessering nie op u kind se profiel verskyn nie, laat weet ons asseblief per WhatsApp sodat ons dit so gou moontlik kan regstel.

WhatsApp-ondersteuning: +64 274 644 903 (onthou die +64 of skakel ons by 011-083 5099)
Ondersteuningsure: Maandag tot Donderdag, 08:00–14:00; Vrydag, 08:00–12:00

Hoe moet ek die assessering benader?

Ons weet dat u die beste vir u kind wil hê. Die doel van assessering is nie net om ’n punt te kry nie, maar om vas te stel waar u kind reeds goed vorder en waar daar nog ontwikkeling, ondersteuning en hersiening nodig is voordat die einde-van-die-jaar-assessering plaasvind.

Gebruik die assessering dus as ’n hulpmiddel om te bepaal waarop u in die volgende paar weke moet fokus.

Elke assessering begin met ’n opsienerverklaring. Hierdie verklaring moet deur die ouer, tutor of persoon wat toesig hou, voltooi, geteken en weer opgelaai word. Sodra die opsienerverklaring opgelaai is, sal die assesseringsaktiwiteite ontsluit word.

Eerlikheid tydens assessering

Dit is baie belangrik dat u, in u kind se belang en vir sy/haar toekomstige ontwikkeling, nie met die assessering help nie.

’n Goeie punt wat nie eerlik verdien is nie, beteken niks nie. Dit gee ’n verkeerde beeld van u kind se werklike begrip en kan veroorsaak dat belangrike leerareas nie betyds raakgesien en reggestel word nie.

Dit het ook onder ons aandag gekom dat sommige kinders Google of KI/AI gebruik om assesseringsvrae te beantwoord. OPSA het ’n "AI-detector" geimplementeer. Enige vraestel of taak wat positief toets vir AI-gebruik, kan 0 vir daardie vraestel of taak ontvang.

Elke assessering moet u kind se eie werk wees.

Onthou asseblief ons OPSA-beginsel:

Ons assesseer om te leer; ons leer nie om te assesseer nie.

Nasien en merkrubrieke

Alle assesserings word deur OPSA gemerk. U hoef dus niks self te merk nie.

Ons het die merkrubrieke aangeheg om vir ouers en tutors te wys waarna OPSA se onderwysers kyk en hoe die werk gemerk word. Die rubrieke is daar vir inligting en leiding — nie vir ouers of tutors om self punte toe te ken nie.

Laai asseblief eenvoudig die vereiste bewyse op, hetsy video’s, foto’s of skrifte, soos die aktiwiteit dit vereis.

Onthou asseblief: alle skrifte moet in u kind se eie handskrif wees. Geen getikte antwoorde sal gemerk word nie, veral nie by taalaktiwiteite waar skryfvaardigheid, sinsbou en taalgebruik geassesseer word nie.

Sterkte met die assessering

Ons wens u en u kind alle sterkte toe met die Kwartaal 3-assessering. By OPSA gaan dit oor die leerproses, ontwikkeling en groei — nie net oor die assessering self nie.

Elke kind leer teen sy/haar eie tempo. Die belangrikste is dat ons eerlik vasstel waar die kind is, sodat ons hom/haar kan help om met selfvertroue verder te groei.

Slotgedagte:
“Assessering is belangrik omdat dit vir ons wys waar leer reeds plaasgevind het en waar verdere groei nodig is. Ons leer nie om geassesseer te word nie; ons leer sodat ons kennis, begrip en vaardighede in die lewe kan toepas en ’n beter wêreld kan help bou.”

Vriendelike groete,
OPSA Ondersteuningspan