Geagte OPSA-ouers/voogde/tutors,

Kan u glo dit is al die einde van week 5 van 2026? 

Die meeste leerders is fluks aan die gang met aktiewe leer. U kan ons voorgestelde skedule sien by: https://opsa-education.com/schedule

As u nog nie aan die gang is nie, moenie bekommerd wees nie—dit is net ’n voorgestelde skedule en u kan maklik inhaal. Elke kind is op sy eie skedule, en dit is belangrik om leer lekker te maak en ons jeug te omskep in ’n nuuskierige generasie wat heeltyd meer en meer wil leer. Ons leer almal elke dag nog steeds nuwe dinge in ’n omgewing wat baie vinnig verander—en as ons nie leer nie, bly ons agter.

“Leer is die enigste ding wat jou relevant hou in ’n wêreld wat aanhou verander.”


Kodering en Robotika

Dankie vir al die inskrywings vir Kodering en Robotika. Ons het aanvanklik probleme ondervind om die regte leerders te identifiseer, maar so leer ons - en ons het die vorm ’n bietjie aangepas. As u nog nie geregistreer het nie en u wil die Kodering en Robotika-kursus doen (gratis vir lede), registreer asseblief hier:

https://opsa-education.com/register_coding-and-robotics

Ons het hierdie week ook Vlak 7 van Kodering en Robotika in Engels geloods en sal volgende week ook die Afrikaanse weergawe loods. Vlak 7 word op ’n uitrolbasis gedoen.


Graad R 

Graad R is reeds tot Dag 15 gepubliseer en sal ook die naweek tot Dag 40 gepubliseer word. Dankie vir julle geduld terwyl ons die stelselprobleme opgelos het.


DBE-registrasies

Ons prosesseer vandag die laaste “batch” DBE-registrasies en dan is ons op datum. Vanaf Maandag gaan ons DBE-registrasies een keer per week prosesseer.

As u hulp nodig het met die registrasie van u kind by die DBE, kan u die vorm hier voltooi:

https://opsa-education.com/register_dbe

Ons sal die vorm nagaan en dit aan u terugstuur saam met:

  • ’n Leerprogram
  • ’n Tydskedule
  • ’n “Draft” motiveringsbrief

Al wat u hoef te doen, is om die dokumente na te gaan, die motivering aan te pas indien u wil, en ’n gesertifiseerde ID (van ouers) en gesertifiseerde geboortesertifikaat (van die kind) aan te heg.

U stuur dit dan na die e-posadres wat ons ook aan u sal voorsien.
Hierdie is ’n diens wat OPSA gratis aan alle tuisonderrigfamilies bied.


Kwartaal 1 Assessering

Ons is hard besig om die assessering vir die eerste kwartaal op te stel en dit sal teen Week 8 opgelaai word. U hoef nie dadelik daarmee te begin nie—maak eers klaar met die kwartaal se leerwerk en doen dan die assessering.

Onthou: ons assesseer om te leer en ons leer nie om te assesseer nie. Assessering moet ’n integrale deel van u leerproses wees, met die hoofdoel om te identifiseer waar die kind nog hulp nodig het.

Aan die begin van alle assesserings sal daar voortaan ’n verklaring wees wat die opsiener moet teken, wat bepaal dat die opsiener onderneem om aan die reëls van die assessering te voldoen. Die assessering sal nie beskikbaar wees voordat die verklaring nie geteken en opgelaai is nie.


Terugvoer en stelselverbeterings

Laastens: baie dankie vir die positiewe terugvoer wat ons ontvang, asook voorstelle oor hoe ons die stelsel kan verbeter. Sonder julle insette is dit onmoontlik om ’n stelsel te skep wat almal kan ondersteun. Ons ondersoek tans ’n “billboard” waar alle stelselveranderinge en verbeteringe “opgeplak” kan word, sodat ons ’n sentrale plek het om dit in ontwikkelingsvergaderings te bespreek en terugvoer aan u te gee.

Slotgedagte: Leer is ’n konstante proses - ’n klein bietjie, maar voortdurend - en met tyd bou dit op tot iets groots.

Vriendelike groete,
OPSA Ondersteuningspan